Ek is dankbaar om aan te kondig dat die nasionale regering 'n bedrag van R18 miljoen beskikbaar gestel het vir ondersteuning in die Wes-Kaap aan boere in die gebiede waar daar nog erge droogte toestande heers. Die eerste R10 miljoen sal omnmiddelik beskikbaar wees en behoort reeds teen middel Desember uitbetaal te word.Die hulp is in die vorm van die aankoop van veevoer by geregistreerde leweransiers, volgens 'n vasgestelde formule, wat direk deur die Departement van Landbou in die Wes-Kaap vergoed sal word.
Die Ministeriële droogtehulp komitee wat bestaan uit verteenwoordigers van die Departement van Landbou, georganiseerde landbou en verteenwoordigers van grondhervormingskomitees van die verskillende gebiede vergader vandag om die gebiede wat geraak word te identifiseer.
Die gebiede wat voorlopig geraak word, is Vredendal, Agter Pakhuis, Ceres Karoo, Touwsrivier omgewing, gedeelte Touwsrivier/Laingsburg, die gebied vanaf Touwsrivier na Merweville en 'n gedeelte in die omgewing van Beaufort-Wes bo-op die berg. Daar is ook sekere areas wat onlangs reën gehad het maar wat nie noodwendig finaal verligting gekry het nie. Hierdie gebiede sal deurlopend gemonitor word en aanpassings sal wel gemaak word na gelang van die verswakking van die toestande in daardie gebiede.
Nuwe aansoekers vir hulp moet 'n volledige aansoek voltooi, terwyl persone wat reeds oor 'n droogtehulp nommer beskik, 'n verkorte vorm met 'n nuwe vee inventaris moet inhandig.
Produsente wat meer besonderhede verlang of wie aansoek wil doen vir hulp, kan met die voorligtingskantore in hulle bepaalde streke skakel .
Navrae: Alie van Jaarsveld
084 604 670
Alie van Jaarsveld
Spokesperson
Ministry of Agriculture: Western Cape
Tel: (021) 483 4930
Fax: (021) 483 3890
Cell: 084 604 6701
E-mail: avjaarsv@pgwc.gov.za